Binne ons klasmure ontdek kinders elke dag die vreugde van leer deur projekte, samewerking en kreatiewe denke. Geïnspireer deur Loris Malaguzzi en Howard Gardner, glo ons dat elke kind uniek is en die wêreld op hul eie manier leer verstaan.
Ons rol as onderwysers en ouers is om leerervarings te skep waar leerders vrae kan vra, probleme kan oplos, nuwe idees kan uittoets en selfvertroue kan bou — alles deur die krag van ontdekking en projekte wat leer tot lewe bring.

Daaglikse Program
07:30 | Opening
Leerders begin die dag saam met ’n kort opening en voorbereidings vir die dag.
08:00 | Klasse Begin
Formele onderrig en projekgebaseerde leeraktiwiteite begin.
09:30 – 10:00 | Eerste Pouse
Tyd vir ’n peuselhappie en speel.
11:30 – 11:45 | Tweede Pouse
Kort breek om energie te herwin.
13:00 – 13:20 | Derde Pouse & Middagete
Leerders eet saam en kry tyd vir ’n laaste breek.
14:00 | Skool Eindig
Die formele skooldag sluit om 14:00.
Middag-opsies
14:00 – 15:00 | Middagprogram
Vir gesinne wat ’n later opsie benodig. Dit sluit middagete sowel as ’n addisionele huiswerkperiode in.
14:00 – 17:30 | Naskoolprogram
Vir gesinne wat ’n langer opvangsopsie benodig. Dit sluit middagete, ’n broodjie en vrug teen 15:00, asook die addisionele huiswerkperiode in. Kinders kry daarna tyd vir kreatiewe en rustige aktiwiteite tot hulle opgetel word.

Kleredrag
Seuns
-
Hemp: Rooi sonder enige handelsmerke. Regio-hempies kan by die kantoor bestel word.
-
Broek: Donkerblou, grys of swart kort/lang broekies mag gedra word. Broekies moet vier vingers bo die knie wees.
-
Skoene: Tekkies, sandale of enige ander toe skoene.
Dogters
-
Hemp: Rooi sonder enige handelsmerke. Regio-hempies kan by die kantoor bestel word.
-
Broek/Rok/Romp: Donkerblou, grys of swart kort/lang broekies of rompies mag gedra word. Rompies en broekies moet vier vingers bo die knie wees. ’n Onderbroekie moet saam met rompies gedra word.
-
Skoene: Tekkies, sandale of enige ander toe skoene.
⚠️ Alle klerestukke moet asseblief gemerk wees.
Ontbyt
Ontbyt word dikwels die belangrikste ete van die dag genoem — en met goeie rede. Volgens Maslow se hierargie van behoeftes kan kinders nie optimaal leer of veilig voel as hul basiese behoeftes, soos ’n vol maag, nie eers vervul is nie.
Daarom is dit belangrik dat leerders ontbyt by die huis eet, of dat hul kosblik iets insluit wat vir ontbyt geniet kan word.
By Regio maak ons seker dat leerders elke dag met energie en fokus kan begin.
Gesonde Kosblik & Water
Die brein gebruik sowat 20% van die liggaam se energie deur die dag en het dus “brandstof” nodig om konsentrasie en leer te ondersteun.
’n Gesonde kosblik help leerders om gefokus en leergierig te bly. Koekies, skyfies, lekkergoed en gaskoeldrank sal gebêre word en ná skool teruggegee word.
Op Vrydae is dit Snoepiedag, waar kinders lekkernye kan koop en geniet. Hierdie dag is doelbewus minder intensief beplan sodat leerders steeds kan ontspan en saam pret hê.