Meer oor die Reggio Emilia Benadering
In hierdie tyd waar ons almal ons geldsake gedurig in die oog moet hou, is daar baie mense wat voel dalk moet hulle na ander opsies kyk as dit by Kleuterskole kom. Almal, ook die hoof en onderwysers van die Kleuterskool en die Laerskool. moet van tyd tot tyd besluit; is ons nog op die regte pad? Ouers moet vra: wat maak Regio Skool anders as ander skole?
- Elke onderwyser is goed opgelei en neem deel aan deurlopende indiensopleiding;
- Almal onderskryf die Reggio Emilia-filosofie wat sȇ dat elke kind sterk is, self wil leer en self wil uitvind;
- Ons glo daaraan dat kinders leer deur te speel. Hierdie spel word gestruktureer deur die omgewing wat deur Prof Loris Malaguzzi die derde onderwyser genoem word. Hierdie siening van ons word gesteun deur die nuutste breinontwikkeling-navorsing en word daagliks bevestig;
- Die heel belangrikste aspek in jong kinders se ontwikkeling is die bou van stabiele, liefdeveolle verhoudings wat deurlopend met die jong kind sal wees. Dit maak die verhouding tussen die volwassenes en jong kinders baie belangrik. Ons het ‘n stabiele kernpersoneel wat alreeds ‘n hele klompie jare by ons is.
- Ons klasse is klein. Die jonger groepie onder 2⅟2 is maksimum 12 kinders met ‘n fantastiese onderwyser en ‘n assistant.
- Die ander groepe is maksimum 16 in ‘n groep by ‘n opgeleide ervare onderwyser en ‘n assistent.
- Die Graad R-groep het twee opgeleide onderwysers by 22 leerders (11 per onderwyser)
- Ons kurrikulum word gebou rondom die ontwikkeling en belangstelling van die kind. Hierdie benadering beteken dat alle kinders intens betrokke is by die leerproses. Die metodiek word gelei deur die vra van vrae. Waaroor wonder jy? Die 3 tot 4 jarige groep het verlede jaar gewonder hoe word heuning gemaak. Dit beteken dat die verbale inhoud van ons program hoog is. Die kinders praat self, soos die Graad R-groep wat in die afgelope week gesels het oor wat gebeur as ‘n vuurspuwende berg ontplof. Hier was nou werklik interessante teorieë!
- Daar word baie klem gelȇ op bewegingsontwikkeling. Dit is ‘n belangrike komponent van skoolgereedheid en latere akademiese prestasie.
- Musiek word weekliks aangebied en die peutergroep is beroemd by ouers vir hulle “tromspelers”.
- Kuns en sensoriese ontwikkeling word daagliks aandag gegee. Ons is altyd verstom as hierdie kleintjies ewe trots vir ons merke op papier wys en sȇ: “dis my naam”. Sommige van hulle begin alreeds met eksplorerende skrif. Ons leer dit nie vir peuters nie, daar word net ‘n “teksryke” omgewing geskep. Hierdie vroeë belangstelling in lees ontwikkel so dat ‘n groot groep leerders in Graad R spontaan lees- en skryfvaardighede ontwikkel.
- Vanaf die 4- tot 6-jaar groepies word daar weekliks bewegingsontwikkeling en ook Drama aangebied. Dit word deur kundiges van buite aangebied en al die kinders moet deelneem. Die diens word bekostig uit die maandelikse fooi.
- Ons het ‘n pragtige, goedversorgde terrein met onderwysers wat saam met die kinders speel en leer. Die apparaat en bome in die tuin lok kinders om te beweeg en hulle groot-motoriese vaardighede te ontwikkel.
- Regio het ‘n uitstekende, gesonde middagete. Ons kry ons vleis en hoenders van plase af en daar is daagliks vars vrugte en vars groente.
- Ons waarneming en assessering is uitsonderlik. Daar word op ‘n deurlopende basis foto’s geneem en aan ouers gestuur dmv SA School Communicator. Die goeie deurlopende waarneming stel ons in staat om ontwikkelingsagterstande vroeg waar te neem en daaraan te werk in ons program.
- Ouers is vir ons belangrik en word aangemoedig om te kom kyk wat in hulle kinders se klasse aangaan.
- Ons jongste groepie peuters ontwikkel in hulle eerste jaar vanaf afhanklike kleintjies tot onafhanklike waagmoedige kleuters.
- Die Kleuterskool en die Laerskool is volgende jaar 10 jaar aan die gang. Die feit dat ons ‘n Kleuterskool en ‘n Laerskool het, stel ons in staat om waar te neem dat ons program werk.
Kom kyk gerus wat doen ons.